Die Woud ft Magdalene Minnaar Lyrics

Album: 
Die Dinkdansmasjien
Song Year: 
2012
Genre: 
Hip Hop
Featuring: 

-

.

ons is die groen
ons is die hout
ons is die ogies
ons is die woud
ons is die takkies
‘jy weet mos, jy weet mos’
ons is die stilte
ons is die bos”

ek volg ‘n skoenlapper tussen die bome deur
en die houtkappers kan op hul byle sweer
hulle’t jou gesien tussen die stamme sweef
met ‘n rytjie blomme in jou skaduwee geweef
en die ruigte wat buig om jou enkels te soen
en stemmetjies wat fluister van elke seisoen
en groen en dors en water en slange
en ‘n menigte blare wat vloei van jou wange
en so groei my verlange om jou self te ontmoet
met die afdruk van God en Sy asem in jou bloed
en ek waag self die diepte agter die skoenlapper aan
dit is asof sy vlerke my gedagtes verstaan
hulle moedig my aan en my hart klop nou vinnig
die blaredak word digter en ek wonder oor die sonlig
wat nou so bietjie melkerig die paadjies laat verdwyn
en uit die hoeke van my oë tussen die groen en die bruin
vermenigvuldig die bewegings van diertjies wat my afloer
my voetstappe wat eggo teen die stamme en die bosvloer
klink skielik nie alleen nie maar ek kyk liewers voor my
en druk deur die bos se arms, hoeveel kan daar nog oorbly?
dis asof my hardloop nou stoom kry maar die bome word al digter
ek byt vas deur die skrape, die tuimel en die splinters
bollemakiesie myself flenters maar ek staan elke keer op
grond tussen my tande en die bos is in my kop
ons loop kringe in mekaar, ons ontmoeting om die hoek
die spasies word al kleiner, ek word deur jou wortels ingekoek
en nou soek ek die hart van die woud en sy lewe
ek hoor al hoe klop dit soos die grond begin bewe
‘n stewige dreun groei in die kreunende bome
en stemme wat vibreer soos lewende drome
en in ‘n oomblik is ek skielik in ‘n oopte op my eie
met die sagste groen gras van die mooiste valleie
in ‘n sirkel omsingel deur ‘n kring van stamme
en in die middel dans ‘n dwarrelwind van blaartjies soos vlamme
en die wind begin sing soos instrumente wat praat
en die blare styg al hoër in die vorm van ‘n ruggraat
klippies wat ‘n gesig maak...verbeel ek my?
skielik hoor ek my eie stem: “wie is jy?”

“ons is die groen
ons is die hout
ons is die oë
ons is die woud
ons is die takke
‘jy weet mos, jy weet mos’
ons is die stilte
ons is die bos”